Druk deur, moenie Probeer Ontsnap Nie
Psalm 23:4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. (1953)
Wanneer jy teëspoed ervaar of selfs wanneer jy so ‘n bietjie ongemaklik of verontrief voel, wil ‘n mens onmiddellike reageer: "Kry my net uit hierdie penarie uit!" Dis net natuurlik, nie waar nie? Jy moet dikwels besluit of jy gaan deurdruk, eerder as om uit die omstandighede te probeer ontsnap.
Watter moeilike situasies het jy al in jou lewe deurgemaak? Of, watter moeilike situasie beleef jy op die oomblik? Het jy ook al daardie gevoel van: "Kry my net uit hierdie penarie uit!" ervaar?
As ek terugdink aan my eie ervaring, besef ek dat God die regte ding gedoen het toe Hy my deur daardie pynlike ervaring geneem het, eerder as om my sommer daaruit te pluk en daaruit te laat ontsnap, sonder om sy les te leer. Dit was hoe Hy my gevorm het tot die mens wat ek vandag is. Dit was tóé wat Hy my toegelaat het om self te ervaar hoe groot sy liefde is; hoe getrou Hy in die moeilike tye van die lewe is; hoe wonderlik dit is om sy Teenwoordigheid te ervaar wanneer ek heeltemal alleen voel.
Kyk wat skryf Dawid oor sy donkerste uur:
Psalm 23:4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. (1953)
Dawid se gebruik van die woorde: “dal van doodskaduwee" is nie bloot vir poëtiese redes daar nie. Hy was werklik in doodsgevaar toe sy voorganger, koning Saul, hom wou doodmaak. Dawid kon daardie “dal” nie omseil nie; hy moes daardeur gaan. Sy verlossing het nie deur ontsnapping gekom nie, maar deur volharding in God se Teenwoordigheid.
God se Teenwoordigheid is 'n lig wat, as jy dit toelaat, helder sal skyn diep in jou donker vallei; jou vrees sal verdryf en jou aan die einde sal red. God is die enigste uitweg.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

