Hou Moed en wees Dapper
Deuteronomium 31:6 Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Hou jy van verandering? Nie? Wel, jy is nie alleen nie. Die waarheid is, dat baie min mense gemaklik is met verandering.
Stel jou dié situasie voor. Moses weet hy gaan binnekort sterf en hy is besig om Josua voor te berei om die leierskap van Israel oor te neem. Hulle staan op die drumpel van die Beloofde Land terwyl Moses sy laaste instruksies gee. Hulle staar magtige vyande, versterkte stede en die onsekerheid van 'n kritieke leierskapsoorgang in die gesig. En op die oomblik pleit Moses met hulle om nie bang te wees nie, maar om sterk en dapper te wees.
Wel, ja, dis maklik vir jou om te sê, Moses. Jy is nie die een wat die Jordaanrivier moet oorsteek nie. Jy is nie die een wat geveg na geveg moet veg om die Beloofde Land in te neem nie.
Kyk watter seënwense spreek Moses oor sy volk uit:
Deuteronomium 31:6 Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Soos ons gesê het, hou die meeste van ons nie van verandering nie. Al hoop ons dat dinge sal verbeter, of dat dit sommer vanself sal regkom, is dit ontstellend wanneer verandering kom, selfs al is dit positiewe verandering, omdat ons nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. En dit is veral wáár, wanneer ons ernstige uitdagings in die gesig staar; wanneer verandering kom, soos dit vir Israel gebeur het.
Dis een ding as iemand anders vir jou sê: wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, maar dis nie genoeg nie. Wat genoeg sal wees - wat altyd meer as genoeg is - is die rede waarom ons dapper moet wees; want die HERE jou God sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Want dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

