Klein Gewoontetjies, Groot Resultate
Galasiërs 6:7-9 Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes..
Soveel dinge is deesdae sonder veel moeite onmiddellik beskikbaar. Jy vra net jou gunsteling KI-program die mees ongelooflike komplekse vraag en die antwoord verskyn binne sekondes. Die idee dat jy dae, maande en selfs jare lank met iets moet stoei, word dus al hoe vreemder vir ons.
'n Boer sien nie oornag resultate nie. Dit begin met klein, roetine stappe wat hy getrou volg. Die boer moet die grond omploeg, die saad saai, gereelde plaagbeheer toepas, die voggehalte dophou, gewasse roteer, die weer dophou... Niks daarvan is glansryk nie. Elke stap lyk onbenullig. Maar mis net een – soos om te versuim om teen plae te waak – en die hele oes sal misluk.
Tog, wanneer die boer sy roetine getrou en met sorg herhaal, gebeur iets wonderliks: van net een klein saadjie lewer die aarde ‘n oes 30, 60, en selfs 100-voudig op. Oor maande word die onsigbare sigbaar. Die boer oes 'n goue see van graan, omdat hy konsekwent in die klein dingetjies getrou was.
Galasiërs 6:7-9 Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.
Dis maklik om ongeduldig te raak en om onmiddellike resultate te verwag wanneer ons ons eie swakhede en mislukkings hanteer. Moenie moedeloos word wanneer jy met die sondige gewoontes in jou lewe worstel nie.
Watter klein gewoontetjies moet jy herhalend doen om jou lewe om te keer?
Transformasie is selde oombliklik - dis 'n reis van bestendige en geleidelike groei. Die Heilige Gees werk deur ons getroue en gereelde gehoorsaamheid. In sy krag lewer daardie klein gewoontes groot resultate.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

