Die Gees Bring Wysheid
Eksodus 31:3-5 My Gees gee vir hom die kennis, begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan maak. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene graveer en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak. (NLV)
Ons is almal geneig om ons natuurlike talente en vermoëns as vanselfsprekend te aanvaar. Ons leef immers al ons hele lewe lank daarmee saam; dis mos niks spesiaal nie; almal kan seker maar doen wat ek doen? En tog is niks verder van die waarheid af nie.
Sommige mense is ongelooflik geseënd met ’n sagmoedigheid en vriendelikheid wat regtig bo gemiddeld is. Maar dan vergelyk hulle hulleself met die uitskieters en mense wat altyd in die kollig is, en hulle dink: As ek maar net so talentvol soos hulle kon wees.
Ekke? Natuurlik probeer ek om saggeaard en vriendelik te wees; maar ek moet hard daaraan werk, want ek is meer die tipe ou wat oor hekkies spring om dinge gedoen te kry. Sien jy hoe simpel dit is om hierdie vergelykings-speletjie te speel?
Destyds toe God vir Moses opdrag gegee het om die tabernakel te bou - daardie spesiale tent waar sy teenwoordigheid tydens Israel se tog van veertig jaar deur die woestyn sou woon - is dít wat Hy gesê het oor Besaleël:
Eksodus 31:3-5: My Gees gee vir hom die kennis, begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan maak. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene graveer en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak. (NLV)
So, hoekom het net een ou daardie talente ontvang? Hoekom nie sommer enige Jan Rap en sy maat nie? Want Besaleël was juis die een wat God uitgekies het en hom bekwaam gemaak het om daardie spesiale dinge te doen.
En weet jy, wanneer jy vervul word met sy Gees - die Heilige Gees word jou "vervelige" ou talente ongelooflik spesiaal en buitengewoon kragtig in sy hande. Niemand anders kan doen, wat jy kan nie, want God het vir jou die talent en die vermoë gegee het om dit te doen. Vir niemand anders nie.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

