Waaraan Het Jy Gedink?
Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Staan jy ooit stil om te dink aan die dinge waaraan jy vandag gedink het? Wat hou jou gedagtes besig? Waaroor peins jy ... en watter invloed het dit op die lewe wat jy lei?
In die middel van die 19de eeu was Ludwig II die koning van Beiere. Hy was 'n briljante individu en hy het die wêreld aan sy voete gehad. Maar hy was obsessief oor fantasie, en hy was geteister deur ‘n baie lae selfbeeld. Sy toenemend negatiewe innerlike wêreld het hom gelei om uit die werklikheid te onttrek.
Ludwig het ‘n fortuin aan fantasie-kastele bestee, hy het verantwoordelikheid vermy en paranoïes en wispelturig geword. Op ‘n dag is hy kranksinnig verklaar. En net ‘n paar dae later is hy geheimsinnig oorlede. Daardie onrealistiese gedagtes het sy greep op die werklikheid vernietig en hom sy troon en lewe gekos.
Baie van die dinge wat die kwaliteit van die lewe wat ons sal lei, bepaal, is buite ons beheer. Jy het seker ook al mal idees gehad wat jou uit die bloute getref het. Ek het ook. Maar die dinge waaraan ons dink, is in 'n groot mate onder ons beheer, en ons kan en behoort verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.
Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
'n Veranderde lewe; om te beweeg van die plek waar jy nou is, na waar God wil hê jy moet wees, begin met 'n vernuwing van jou denke. En die beste soort lewe begin met 'n denkpatroon wat deur die Woord en die krag van God verander word. Dít waarop jy nou fokus, wat jy glo, vorm jou vermoë om God se wil te onderskei en om volgens sy doel vir jou lewe te wandel.
Jou denke is nie net 'n passiewe verwerker van inligting nie; dit is 'n slagveld en 'n poort. Dít waarop jy jou denke fokus, sal uiteindelik die verloop van jou lewe bepaal.
Word verander deur die vernuwing van jou denke.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

