Wanneer Jou Voet Besig is om te Gly
Psalm 94:18-19 Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.
Die druk wat ons in die lewe ervaar, bekruip ons dikwels geleidelik, onmerkbaar. Jy leef net daarmee saam totdat jy eendag op breekpunt kom.
Ek het onlangs met 'n vriend van my in sy sewentigs gesels. Hy het gewonder wat God volgende vir hom in gedagte het, nadat hy pas sy deeltydse werk voltooi het. Hy was altyd, behalwe vir 'n bietjie pyn en 'n bietjie onsekerheid oor ‘n knievervangingsoperasie in die nabye toekoms, ‘n gelukkige en positiewe mens. Maar nou, met al die verwikkelinge wêreldwyd, het hy begin besorg raak oor sy finansies en gewonder hoeveel tyd hy en sy vrou saam op hierdie aarde oor het. Ek kon sien dat hy nie homself was nie, hy was onder druk. Dis hoe dit in die lewe is... Ek is seker jy kan jouself hiermee vereenselwig.
Hierdie psalmis was baie duidelik deel van 'n gemeenskap onder druk, waar die goeie mense aan die hande van die goddeloses gely het. Daarom bid hy tot God in:
Psalm 94:18-19 Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.
Dis ‘n aaklige gevoel wanneer jy voel asof jou voete gly, en asof die sorge van die lewe jou gaan oorweldig.
Kom ons wees realisties - God verwyder nie altyd die oorsaak van ons probleem nie. In plaas daarvan vertroos Hy ons, Hy ondersteun ons daardeur. So, verstaan mooi, daardie goddelike vertroosting is nie die afwesigheid van probleme nie, maar die teenwoordigheid van God, te midde daarvan. Hy vervang angs met vreugde, chaos met stabiliteit. Hou moed. Jy is nie alleen nie.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

