Ontdek Die Waarheid
Lukas 24:30-32 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
Ons verhoudings met ons medemens het ‘n ontsaglike groot invloed op ons karaktervorming. Opbouende verhoudings help ons om in ons alledaagse handel en wandel die fundamentele waarhede van die lewe te ontdek. Ons leer om die realiteite; die druk en ook die beproewinge van die lewe te hanteer.
Sophie Scholl was ‘n lid van ‘n Nazi Jeugbeweging. Sy, haar broer Hans, en nog studente het op ‘n dag die negatiewe sy van Hitler se propaganda begin insien en weggebreek van die Nazi’s. Hulle het die Bybel en die werke van Christelike denkers soos Augustinus en Kierkegaard saam bestudeer. Hulle het Jesus ontmoet en die waarheid met mekaar gedeel. Hulle het besef dat die waarheid, selfs al vra dit ‘n hoë prys, uitgeleef moet word.
Haar hegte band met haar broer en vriende het haar die moed gegee om by die weerstandsbeweging aan te sluit. Dit het tot haar teregstelling op 21-jarige ouderdom, gelei. Sophie se ontdekking van waarheid was nie in isolasie gevorm nie, maar in verhoudings - menslik en goddelik.
Net ná Jesus se kruisiging en opstanding, het twee dissipels langs die pad na Emmaus geloop en die traumatiese gebeure van die Pasgafees bespreek. Toe Jesus langs hulle kom loop het, het hulle Hom nie herken het nie, want Hy was die laaste persoon wat hulle verwag het. Maar met etenstyd ...
Lukas 24:30-32 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
Daar is niks - absoluut niks - soos die ervaring om langs die pad van die lewe, 'n persoonlike ontmoeting met Jesus Christus te hê nie. Dit sal jou oë vir die waarheid oopmaak. Niks vergelyk daarmee nie!
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

