Hier is ek Here
Lukas 5:10-11 Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg. (AFR20)
Het jy al agtergekom hoe ander mense se opinies geneig is om jou terug te hou? Wanneer hulle jou ignoreer, jou talente minderwaardig laat klink, of glad nie raaksien wat jou bydrae is nie… is dit so maklik om in jou dop te kruip. Om te wag. Om vir jouself te sê: Wel, ek sal my deel doen wanneer iemand my uiteindelik raaksien.
Scott Clary, wat talle wêreldberoemde boeke oor besigheid geskryf het, het nou die dag gesê... Wees jy die een wat uitreik. Stuur eerste daardie WhatsApp. Bel eerste. Beplan eerste. Neem die inisiatief. Vriendskap kos moeite. Liefde vra aksie… Inisiatief is aantreklik.
Goed, ek besef hy praat van hoe jou houding in die sake-wêreld moet wees. Maar laat ek jou vertel, Jesus het presies dieselfde van sy dissipels verwag.
Lukas 5:10-11: Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg. (AFR20)
In die Koninkryk van God is dit natuurlik Jesus wat ons roep. Maar dis steeds so maklik om terug te deins, om heeltemal deur die wêreld se kritiek verlam te word. Jesus het daardie vissermanne geroep om uit hulle gemaksone te klim, hulle nette agter te laat en Hom te volg. Hulle kon met allerhande verskonings vorendag gekom het oor hoekom hulle eerder moes bly waar hulle is. Maar hulle het die inisiatief geneem en Hom gevolg.
En dit is vandag ook die roeping vir ons. Nie om sy gesag oor te neem nie, maar om een van die eerstes te wees om sy leiding te volg. Eerste om op te tree. Eerste om lief te hê. Eerste om te lei. Want om ander te lei terwyl jy Jesus volg, is nie hoogmoed nie. Dis gehoorsaamheid.
Dit is God se Woord. Vars… vir jou… vandag.

